|
"Een,
twee, drie
.. twintig!!! Kan ek maar kom?"
Carla se skril stemmetjie laat ouma se teekoppie hard
op die klei vloer val. Dit spat in skerwe en ouma
sit kierts regop in haar stoel, haar bolla skoon skeef
geskrik. Voor jy kan sê mes, is ouma op haar
voete, kierie in die een hand en arme Vlekkie hulpeloos
onder haar ander arm vasgedruk. Hy wil mos altyd op
haar skoot slaap
dit sal hom leer, hy het 'n
matjie - nogal met sy naam op - reg voor ouma se stoel.
Die benoude tjankgeluidjies wat hy maak, red sy lewe.
Hy hardloop vinnig in die rigting van die koelteboom
toe ouma hom neersit. Hy strek sy lyfie lank uit en
vertrek weer op sy reis na droomland.
Soos
'n wafferse weermag sersant laat ouma luidkeels weet
dat dit nou tyd is vir beskuit bak. Ek weet nie hoekom
Carla so hard moes geskreeu het nie. Ons kon nou nog
heerlik gespeel het, maar nee, as gevolg van haar
swane-sang word ons nou geroep tot kombuisdiens!!
Ek probeer nog verskonings uitdink, maar o wee, toe
ouma my oor beetkry, hou ek dadelik op protesteer.
Ek loop soos 'n bliksoldaatjie reg langs haar tot
in die kombuis en sit vinnig die groot voorskoot aan.
"Meisiekinders moet alles kan doen, en wie beter
as ouma om julle te leer", sê ouma trots
en ek besef : hier kom 'n ding!!! Mamma stuur ons
plaas toe om te rus, want, sê sy, skool is nie
grappies nie en ons het die vars lug nodig. Ouma stem
natuurlik glad nie saam met mamma se filosofie nie
en voel ons moet leer. Leer by die skool, leer op
die plaas, wanneer kry ons ooit tyd om net lekker
te speel?
Carla wil nog ouma se wyse woorde beaam, maar een
kyk van my kant af laat haar besluit om maar eerder
die suiker uit die kas te gaan haal. As sy weet wat
goed is vir haar, bly sy ver van my af weg!! Ek het
nog altyd gewonder hoe sy sal lyk met 'n hoedjie gemaak
van beskuitdeeg
"Eina!!",
verbreek ek die konsentrasie in die kombuis. Carla
skrik haar asvaal, want ek spring soos 'n sprinkaan,
amper bo-oor die tafel waar sy besig is om haar bolletjies
beskuit netjies in rye te pak.
Ouma kyk benoud na die rooi streep op my hand, en
besluit net daar dat ons 'n blaaskansie nodig het.
Ons is al immers twee ure besig in die warm kombuis
en die stoof het ook nou laat weet sy tong sleep op
die grond van moegheid, geen wonder hy brand so seer
nie!!!
Salig
strek ek my reg langs Vlekkie op die gras onder die
lowergroen boom uit. Net toe ek saam met Vlekkie op
sy reis na droomland wil vertrek, hoor ek 'n baie
bekende skril stemmetjie reg langs my. "Kom ons
speel nou wegkruipertjie" sê Carla baie
opgewonde. "Die seuns is al moeg karretjies gespeel
en wil ook graag wegkruipertjie speel
. ag toe,
asseblief Lala" smeek sy my. Sy aanvaar nie nee
vir 'n antwoord nie, en baie teen my sin begin ek
tel : "Een, twee, drie, vier
."
Nee
wat, om Pieter op te spoor, is amper so erg as om
na 'n naald in 'n hooimied te soek. Hy is nêrens
te vinde nie, nie onder die trekker se wiele nie,
nie in die skuur nie, nie in die dromme langs die
perdestalle nie - hy is weg!
Moeg en moedeloos gesoek, stap ek in die rigting van
die woud reg agter oupa se groentetuin. Saggies maak
ek die hekkie wat na die woud lei oop, bang iemand
hoor my. Klaasvakie het lankal sand in my oë
gegooi en die stryd om hulle oop te hou, raak nou
baie erg. As ek net vir 'n oomblik kan slaap. Ek sal
sommer baie beter voel, ek weet dit.
Die
uitgeholde boomstomp is perfek. Ek kruip diep in die
stomp in, bang iemand sien my. Ek weet ouma gaan nou-nou
roep en dan is dit weer beskuit bak of koei melk of
koeksisters vleg. Ek sal net so 'n bietjie skuins
lê en as sy vir die vierdie keer roep, sal ek
teruggaan en verder leer om eendag 'n goeie vrou te
wees. Vir nou speel ek eers lekker wegkruipertjie
.
Sukkel
sukkel maak ek my oë versigtig oop. Dit voel
of iemand bakstene op my oë gesit het, want ek
kry hulle net nie oop nie. Uiteindelik is ek wakker,
maar o genade daar is groot fout!! Ek kan niks sien
nie. Baie benoud tas ek om my rond, waar is ek, wat
maak ek hier? Ek is baie bang, en vir die eerste keer
hierdie vakansie wens ek ouma wil my roep, maar niks,
dit is doodstil en pik donker rondom my. Versigtig
begin 'n kriek reg langs my oor gesels en toe onthou
ek waar ek is
in die donker woud!! Niemand gaan
my ooit hier kry nie! Dit is so donker dat ek nooit
die pad terug sal kry tot by die groentetuin nie.
Ek is verlore, verdwaal en
. verskriklik bang.
My hart klop in my keel en my knieë klap teen
mekaar soos twee simbale in 'n orkes. Oupa het ons
net gister gewaarsku dat ons nie naby die woud moet
kom nie, want oupa se buurman het verlede week twee
jakkalse op sy plaas verwilder en hulle het in die
rigting van die woud gehardloop.
Skielik tjank 'n jakkals in die verte en al wat ek
kan uitkry is 'n piepgeluidjie wat nie eers die kriek
laat skrik nie.
Girts,
girts, girts, hoor ek iets reg langs die boomstomp.
Dit kom al hoe nader en nader en ek knyp my oë
so styf toe as wat ek kan. Girts, girts
. skielik
is dit stil, ek wil gil, maar kry nie 'n geluid uit
nie. My hart slaan bollemakiesie en ek maak my een
oog op 'n skrefie oop. 'n Helder lig verblind my skrefie-oog,
en uiteindelik kry ek 'n verskrikte "help"
uit!
"Lala?"
hoor ek my oupa se stem aan die ander kant van die
lig. Ek is so bly dat ek sommer opspring om na oupa
toe te hardloop. Ek het vergeet dat ek in 'n baie
klein boomstomp lê en stamp my kop dat ek net
sterre sien. Dit keer my nie, en ek kruip vinnig na
die uitgang van die stomp. Die "girts" wat
ek gehoor het, was toe al die tyd net oupa se skoene
op die droë blare in die woud.
"Uiteindelik jou karnallie, jy het ons groot
laat skrik. Wat maak jy hier in die boomstomp?"
vra oupa verheug.
Ouma
en oupa het darem maar lekker gelag toe ek hulle vertel
van my avontuur. Ek het hulle belowe dat ek nooit
ooit weer in die woud sal gaan wegkruip nie.
Fluitig help ek ouma met die beskuit wat bruin gebak
in die oond wag om uitgehaal te word.
Beskuit bak was nog nooit so lekker nie!!!
Kopiereg
©Larné du Plessis (2008)
|