|
Dit
is die jaar 4032. Fyodor Reploikta is kaptein van
die heelal-beroemde ruimteskip FC5-3X. Die skip reis
na 'n bestemming miljoene ligjare weg om 'n vrag ammunisie
af te laai vir HO3 (Heelal-oorlog drie). Kaptein Reploikta
sit voor sy drie-dimensionele beheerpaneel en stuur
die skip drie grade na regs om 'n meteoriet te vermy.
Dit is toe dat hy die groot gevaar sien...
Die
FC5-3X is een van die beste skepe in die heelal. Hy
is 3000 kilometer lank en 1000 kilometer breed. Sy
topspoed is 35 ligjare per uur, wat vinnig is vir
'n skip so groot soos diè een. Hy is met 500
000 ton ammunisie en wapens gelaai. As daar selfs
soveel as 'n vonkie in een die stoorkamers is, sal
die die hele skip binne oomblikke in 'n massiewe bol
vuur en radio-aktiewe strale verdwyn. Dit is presies
waaroor Kaptein Reploikta nou so bekommerd is. Toe
hy teen 'n spoed van 26 ligjare per uur 'n paar grade
na regs draai, sien hy die FC5-skepe se aartsvyand:
die XL3-skepe. 'n Hele vloot van hulle, almal gewapen
met mega-masjiengewere en statiese straalgooiers.
Dit lyk asof hulle die FC5 gewaar, want hulle sweef
dadelik na links om uit die veel groter skip se pad
uit te kom - selfs al is hulle bekend as 'n vreeslose
en roekelose nasie, is hulle nie onnosel nie. Hulle
het ook gehoor wat die FC5 aan boord het, want daar
is 'n spioen in die FC5-Stasie. Kaptein Reploikta
besef met 'n skok wat hulle probeer doen - hulle wil
agter die skip kom, ver agter hom, sodat hulle hom
van daar af kan opblaas!
In
sy 15 jaarlange loopbaan as vlieënier het Kaptein
Reploikta nog nooit 'n probleem soos hierdie gehad
nie. Daar was al vele tegniese probleme soos 'n deur
wat oopgelos was of 'n turbine wat uitgebrand het,
maar daarvoor het hy altyd 'n oplossing gehad. Nou
is dit lewe of dood, besef hy. Hy roep die FC5-stasie
met sy radio. "Daar is 'n hele vloot XL3-skepe
agter die FC5-3X! Hulle wil ons..." Die eerste
statiese straal is gegooi. Die radiosisteem is buite
werking! Selfs die beheerpaneel is opgemors. Sweet
begin van die kaptein afdrup. "Hoe lank nog",
wonder hy, "voordat hulle losbrand met die masjiengewere?"
Hulle supersterk titanium patrone sal gou-gou deur
die skip dring. "Ek moet iets doen. Ek kan nie
net hier sit en wag vir my skip om te vergaan nie!"
skree die Kaptein. Al die bemanning, wat agter in
die skip was, is bewusteloos geruk deur die stroom
statiese elektrisiteit wat die skip se agterkant getref
het. Die XL3-skepe, al 25 van hulle, is nou presies
'n kilometer van die FC5 af. Hulle moet ten minste
3 kilometer agter hom wees om nie ook in die ontploffing
te vergaan nie. Gelukkig gaan hulle nie vinnig agteruit
nie. "Daar is twee minute oor voor hulle gaan
vuur. Wat gaan ek doen?!" wonder die Kaptein.
Hy besluit op die enigste opsie.
Hy
haas hom na die stoorkamer met die titaniumdeur en
plaas sy regteroog voor die sensor om die deur oop
te laat gly. Sonder aarseling gryp hy na die eeu-oue
glashouer en smeer die taai, ghriesagtige gel daarin
op sy hand. Die bruingeel gel ruik eienaardig, maar
kaptein Reploikta weet dit is sy laaste aksie as 'n
lewendige wese. Sonder aarseling lek hy daaraan, weer
en weer. Tot sy verbasing is dit aangenaam op sy tong.
Hy lees die vergeelde, verweerde plakker op die glasbottel
wat vir 2022 jaar lank verstommend behoue gebly het
en besef dit is die heel laaste woorde wat hy in sy
lewe gaan lees. Deur die angssweet wat in sy oë
loop, prewel hy die woorde: "BLACK CAT PEANUT
BUTTER". En toe, met 'n knal wat die planete
ruk, ontplof sy skip.
Die Ruimte-Ramp deur Pieter
van der Bank
Kopiereg voorbehou deur die outeur 2010 ©
|