WEGKRUIPERTJIE
   

Wegkruipertjie deur

Larné du Plessis (2008)

(MS Word Formaat vir uitdruk van Wegkruipertjie Storie deur Larné du Plessis (2008)

"Een, twee, drie ….. twintig!!! Kan ek maar kom?" Carla se skril stemmetjie laat ouma se teekoppie hard op die klei vloer val. Dit spat in skerwe en ouma sit kierts regop in haar stoel, haar bolla skoon skeef geskrik. Voor jy kan sê mes, is ouma op haar voete, kierie in die een hand en arme Vlekkie hulpeloos onder haar ander arm vasgedruk. Hy wil mos altyd op haar skoot slaap… dit sal hom leer, hy het 'n matjie - nogal met sy naam op - reg voor ouma se stoel. Die benoude tjankgeluidjies wat hy maak, red sy lewe. Hy hardloop vinnig in die rigting van die koelteboom toe ouma hom neersit. Hy strek sy lyfie lank uit en vertrek weer op sy reis na droomland.

Soos 'n wafferse weermag sersant laat ouma luidkeels weet dat dit nou tyd is vir beskuit bak. Ek weet nie hoekom Carla so hard moes geskreeu het nie. Ons kon nou nog heerlik gespeel het, maar nee, as gevolg van haar swane-sang word ons nou geroep tot kombuisdiens!! Ek probeer nog verskonings uitdink, maar o wee, toe ouma my oor beetkry, hou ek dadelik op protesteer. Ek loop soos 'n bliksoldaatjie reg langs haar tot in die kombuis en sit vinnig die groot voorskoot aan. "Meisiekinders moet alles kan doen, en wie beter as ouma om julle te leer", sê ouma trots en ek besef : hier kom 'n ding!!! Mamma stuur ons plaas toe om te rus, want, sê sy, skool is nie grappies nie en ons het die vars lug nodig. Ouma stem natuurlik glad nie saam met mamma se filosofie nie en voel ons moet leer. Leer by die skool, leer op die plaas, wanneer kry ons ooit tyd om net lekker te speel?
Carla wil nog ouma se wyse woorde beaam, maar een kyk van my kant af laat haar besluit om maar eerder die suiker uit die kas te gaan haal. As sy weet wat goed is vir haar, bly sy ver van my af weg!! Ek het nog altyd gewonder hoe sy sal lyk met 'n hoedjie gemaak van beskuitdeeg……

"Eina!!", verbreek ek die konsentrasie in die kombuis. Carla skrik haar asvaal, want ek spring soos 'n sprinkaan, amper bo-oor die tafel waar sy besig is om haar bolletjies beskuit netjies in rye te pak.
Ouma kyk benoud na die rooi streep op my hand, en besluit net daar dat ons 'n blaaskansie nodig het. Ons is al immers twee ure besig in die warm kombuis en die stoof het ook nou laat weet sy tong sleep op die grond van moegheid, geen wonder hy brand so seer nie!!!

Salig strek ek my reg langs Vlekkie op die gras onder die lowergroen boom uit. Net toe ek saam met Vlekkie op sy reis na droomland wil vertrek, hoor ek 'n baie bekende skril stemmetjie reg langs my. "Kom ons speel nou wegkruipertjie" sê Carla baie opgewonde. "Die seuns is al moeg karretjies gespeel en wil ook graag wegkruipertjie speel…. ag toe, asseblief Lala" smeek sy my. Sy aanvaar nie nee vir 'n antwoord nie, en baie teen my sin begin ek tel : "Een, twee, drie, vier…."

Nee wat, om Pieter op te spoor, is amper so erg as om na 'n naald in 'n hooimied te soek. Hy is nêrens te vinde nie, nie onder die trekker se wiele nie, nie in die skuur nie, nie in die dromme langs die perdestalle nie - hy is weg!
Moeg en moedeloos gesoek, stap ek in die rigting van die woud reg agter oupa se groentetuin. Saggies maak ek die hekkie wat na die woud lei oop, bang iemand hoor my. Klaasvakie het lankal sand in my oë gegooi en die stryd om hulle oop te hou, raak nou baie erg. As ek net vir 'n oomblik kan slaap. Ek sal sommer baie beter voel, ek weet dit.

Die uitgeholde boomstomp is perfek. Ek kruip diep in die stomp in, bang iemand sien my. Ek weet ouma gaan nou-nou roep en dan is dit weer beskuit bak of koei melk of koeksisters vleg. Ek sal net so 'n bietjie skuins lê en as sy vir die vierdie keer roep, sal ek teruggaan en verder leer om eendag 'n goeie vrou te wees. Vir nou speel ek eers lekker wegkruipertjie….

Sukkel sukkel maak ek my oë versigtig oop. Dit voel of iemand bakstene op my oë gesit het, want ek kry hulle net nie oop nie. Uiteindelik is ek wakker, maar o genade daar is groot fout!! Ek kan niks sien nie. Baie benoud tas ek om my rond, waar is ek, wat maak ek hier? Ek is baie bang, en vir die eerste keer hierdie vakansie wens ek ouma wil my roep, maar niks, dit is doodstil en pik donker rondom my. Versigtig begin 'n kriek reg langs my oor gesels en toe onthou ek waar ek is… in die donker woud!! Niemand gaan my ooit hier kry nie! Dit is so donker dat ek nooit die pad terug sal kry tot by die groentetuin nie. Ek is verlore, verdwaal en …. verskriklik bang. My hart klop in my keel en my knieë klap teen mekaar soos twee simbale in 'n orkes. Oupa het ons net gister gewaarsku dat ons nie naby die woud moet kom nie, want oupa se buurman het verlede week twee jakkalse op sy plaas verwilder en hulle het in die rigting van die woud gehardloop.
Skielik tjank 'n jakkals in die verte en al wat ek kan uitkry is 'n piepgeluidjie wat nie eers die kriek laat skrik nie.

Girts, girts, girts, hoor ek iets reg langs die boomstomp. Dit kom al hoe nader en nader en ek knyp my oë so styf toe as wat ek kan. Girts, girts…. skielik is dit stil, ek wil gil, maar kry nie 'n geluid uit nie. My hart slaan bollemakiesie en ek maak my een oog op 'n skrefie oop. 'n Helder lig verblind my skrefie-oog, en uiteindelik kry ek 'n verskrikte "help" uit!

"Lala?" hoor ek my oupa se stem aan die ander kant van die lig. Ek is so bly dat ek sommer opspring om na oupa toe te hardloop. Ek het vergeet dat ek in 'n baie klein boomstomp lê en stamp my kop dat ek net sterre sien. Dit keer my nie, en ek kruip vinnig na die uitgang van die stomp. Die "girts" wat ek gehoor het, was toe al die tyd net oupa se skoene op die droë blare in die woud.
"Uiteindelik jou karnallie, jy het ons groot laat skrik. Wat maak jy hier in die boomstomp?" vra oupa verheug.

Ouma en oupa het darem maar lekker gelag toe ek hulle vertel van my avontuur. Ek het hulle belowe dat ek nooit ooit weer in die woud sal gaan wegkruip nie.
Fluitig help ek ouma met die beskuit wat bruin gebak in die oond wag om uitgehaal te word.
Beskuit bak was nog nooit so lekker nie!!!

Kopiereg ©Larné du Plessis (2008)

(Geen deel van die storie mag versprei word sonder skriftelike toestemming van die outeur nie).