![]() |
Die
Ruimte Ramp Verhaal
|
|
Dit is die jaar 4032. Fyodor Reploikta is kaptein van die heelal-beroemde ruimteskip FC5-3X. Die skip reis na 'n bestemming miljoene ligjare weg om 'n vrag ammunisie af te laai vir HO3 (Heelal-oorlog drie). Kaptein Reploikta sit voor sy drie-dimensionele beheerpaneel en stuur die skip drie grade na regs om 'n meteoriet te vermy. Dit is toe dat hy die groot gevaar sien...
Die FC5-3X is een van die beste skepe in die heelal. Hy is 3000 kilometer lank en 1000 kilometer breed. Sy topspoed is 35 ligjare per uur, wat vinnig is vir 'n skip so groot soos diè een. Hy is met 500 000 ton ammunisie en wapens gelaai. As daar selfs soveel as 'n vonkie in een die stoorkamers is, sal die die hele skip binne oomblikke in 'n massiewe bol vuur en radio-aktiewe strale verdwyn. Dit is presies waaroor Kaptein Reploikta nou so bekommerd is. Toe hy teen 'n spoed van 26 ligjare per uur 'n paar grade na regs draai, sien hy die FC5-skepe se aartsvyand: die XL3-skepe. 'n Hele vloot van hulle, almal gewapen met mega-masjiengewere en statiese straalgooiers. Dit lyk asof hulle die FC5 gewaar, want hulle sweef dadelik na links om uit die veel groter skip se pad uit te kom - selfs al is hulle bekend as 'n vreeslose en roekelose nasie, is hulle nie onnosel nie. Hulle het ook gehoor wat die FC5 aan boord het, want daar is 'n spioen in die FC5-Stasie. Kaptein Reploikta besef met 'n skok wat hulle probeer doen - hulle wil agter die skip kom, ver agter hom, sodat hulle hom van daar af kan opblaas!
In sy 15 jaarlange loopbaan as vlieënier het Kaptein Reploikta nog nooit 'n probleem soos hierdie gehad nie. Daar was al vele tegniese probleme soos 'n deur wat oopgelos was of 'n turbine wat uitgebrand het, maar daarvoor het hy altyd 'n oplossing gehad. Nou is dit lewe of dood, besef hy. Hy roep die FC5-stasie met sy radio. "Daar is 'n hele vloot XL3-skepe agter die FC5-3X! Hulle wil ons..." Die eerste statiese straal is gegooi. Die radiosisteem is buite werking! Selfs die beheerpaneel is opgemors. Sweet begin van die kaptein afdrup. "Hoe lank nog", wonder hy, "voordat hulle losbrand met die masjiengewere?" Hulle supersterk titanium patrone sal gou-gou deur die skip dring. "Ek moet iets doen. Ek kan nie net hier sit en wag vir my skip om te vergaan nie!" skree die Kaptein. Al die bemanning, wat agter in die skip was, is bewusteloos geruk deur die stroom statiese elektrisiteit wat die skip se agterkant getref het. Die XL3-skepe, al 25 van hulle, is nou presies 'n kilometer van die FC5 af. Hulle moet ten minste 3 kilometer agter hom wees om nie ook in die ontploffing te vergaan nie. Gelukkig gaan hulle nie vinnig agteruit nie. "Daar is twee minute oor voor hulle gaan vuur. Wat gaan ek doen?!" wonder die Kaptein. Hy besluit op die enigste opsie.
Hy
haas hom na die stoorkamer met die titaniumdeur en plaas sy regteroog voor die
sensor om die deur oop te laat gly. Sonder aarseling gryp hy na die eeu-oue
glashouer en smeer die taai, ghriesagtige gel daarin op sy hand. Die bruingeel
gel ruik eienaardig, maar kaptein Reploikta weet dit is sy laaste aksie as 'n
lewendige wese. Sonder aarseling lek hy daaraan, weer en weer. Tot sy verbasing
is dit aangenaam op sy tong. Hy lees die vergeelde, verweerde plakker op die
glasbottel wat vir 2022 jaar lank verstommend behoue gebly het en besef dit
is die heel laaste woorde wat hy in sy lewe gaan lees. Deur die angssweet wat
in sy oë loop, prewel hy die woorde: "BLACK CAT PEANUT BUTTER".
En toe, met 'n knal wat die planete ruk, ontplof sy skip.
Die Ruimte-Ramp deur Pieter van der Bank
Kopiereg voorbehou deur die outeur 2010 ©