Pret met Plante
     


Geheime boodskappe van plante

Het jy geweet dat wanneer jy 'n blom of ruiker vir iemand gee, dit eintlik ook 'n geheime boodskap dra? Die blom of plantsoort, sy kleur en kombinasies van die blomme in 'n ruiker het 'n spesiale boodskap. Selfs die manier waarop jy dit vir 'n persoon gee, dra 'n boodskap.

Wanneer jy 'n blom met die linkerhand gee, is jou antwoord nee en met die regter hand, ja. As jy die blom onderste bo gee of hang, het dit die teenoorgestelde betekenis. Ons noem dit die geheime taal van blomme.

Dit is natuurlik nie 'n vaste kode wat regtig iets beteken nie, maar 'n boodskap wat baie jare gelede aan elkeen geheg is gedurende die Victoriaanse tydperk. Dit is nie 'n bygeloof nie, met ander woorde dit gaan nie waar word as jy dit so dink nie, dit is slegs simbolies. Die vrouens aan die koninklike hof het nie oor die vryheid van vandag beskik nie en kon soms net boodskappe sonder woorde oordra om hulle gevoelens aan iemand te wys. Daar het sedertien 'n tradisie onstaan om ruikers vir spesifieke geleenthede te skep.

Plante was selfs simbolies gebruik in die Bybelse tyd. Die olyfplant verteenwoordig byvoorbeeld vrede. In die woestynagtige lande neem dit sowat twintig jaar vir 'n olyfboom om groot te word en baie vrugte te lewer. Juis daarom, sou vyande van lande heel eerste die olyfboorde vernietig. Dit sou dan die betrokke land in armoede dompel vir 'n lang tyd tot daar weer oeste is. Die olyfboom kan dus slegs groei in langdurige tydperke van vrede en daarom is die olyfplant 'n simbool van vrede.

Die roos is een van die gewildste blomme en het soveel geheime boodskappe as wat daar kleure en soorte is.Die roos staan vir liefde, geluk, vreugde, begeerte, vriendskap, eenheid, vrede, respek en onskuld om maar 'n paar te noem.

Rooi roos: ek het jou lief en vir respek
Wit roos: onskuld, geheime liefde, vrede
Donker pienk roos: dankbaarheid
Ligte pienk roos: genade
Oranje roos: bewondering
Geel roos: vreugde en vriendskap
Wit en rooi rose saam: eenheid

Selfs die kaktus, wat 'n soort vetplant is, dra 'n boodskap van warmte, krag en deursettingsvermoë.

Nou dat julle so bietjie agtergrond het oor die boodskappe wat blomme dra, kom ons kyk na watter tipe geskenkies gemaak kan word. Hierdie geskenkies kan jy sommer uit jul tuin maak.

Tuintjie van liefde

Benodighede:
2 of 3 klippies
Grond uit julle tuin
Leë plastiese roomysbak of 'n ou koekblik
Plantjies of blomme met hulle wortels van jou keuse. Dit moet kleinerige plantjies wees. Jy kan ook saadjies plant.(Kyk hier onder vir nog betekenisse van blomme)
As jy 'n paar verrotte blare kan kry of selfs net droë blare wat jy fyn druk, sal dit wonderlik wees.

Stap 1
Maak 'n paar gaatjies aan die onderkant van die houer met 'n mes. Wees versigtig en laat 'n grootmens jou hiermee help.

Stap 2
Gooi die grond, gemeng met fyn opgebreekte blaartjies in die houer tot amper vol.

Stap 3
Maag nou 'n holte in die grond vir elke plantjie (nie meer as drie nie). Plaas die plantjie met wortels eerste in die holte en maak dit stewig staan deur die grond met jou vingerpunte in te druk.

Stap 4
Plaas die klippies nou iewers in die houer om effek te gee.

Stap 5
Maak liggies nat.

Stap 6
Sit 'n lint om die houe en maak 'n strik of versier die houer met prentjies wat jy daarop verf of plak.

Stap 7
Maak 'n klein kaartjie met jou boodskap op en maak dit aan 'n stokkie vas. Plant die stokkie ook in jou tuintjie.


Hier is nog enkele blomme en plante se betekenis om jou te help.


Madeliefie (daisy)
Jy het net soveel goeie eienskappe as wat die blom kelkblare het. (dit is daardie pragtige geel, pink, wit of oranje blommetjies met die baie kelkblare wat lyk soos 'n ster of son).

Angelier
Pienk: gee vir mamma op moedersdag om dankie te sê. Dit beteken ook dat ek jou nooit sal vergeet nie.
Rooi: ek is lief vir jou.
Wit: waarheid en onskuld
Gestreep: ek wens ek kon by jou wees.


Viooltjie: gedagtes aan jou


Perskebloeisel of takkie: gee aan pappa en mamma vir hulle huweliksherdenking want dit staan vir huwelik.

Varkoor: jy is baie mooi


Maak 'n papierblomruiker

Benodighede:
Gekleurde of wit sneesdoekies (tissues)
Garing
Skêr

Stap 1
Neem 'n sneesdoekie en vou dit vorentoe en agtertoe om in waaier te vorm.

Stap 2
Neem 'n stukkie garing en bind dit saam in die middel. Maak seker dat dit styf is.

Stap 3
Skei die lae van die sneesdoekie en vrommel dit in die vorm van 'n blom

Stap 4
As jy wit sneesdoekies gebruik, kan jy met waterverf op die rante 'n lyntjie maak of selfs met inkpenne (koki's).
Jy kan 'n paar maak en dit in 'n ruiker sit. Jy kan kleefband (cellotape) gebruik instead van garing om die sneesdoekie in die middel te heg . Draai die sneesdoekie in 'n stingelvorm aan die onderkant en sit die kleefband om.

Nou het jy 'n mooi ruiker of blom om vir juffrou of mamma te gee om sommer net dankie te sê.


Boekmerk

Benodighede
Stukkie karton of dun hout
Droë grassies, blare en stokkies
(Jy kan blomme of blare pluk en dit dan onder 'n paar boeke sit vir so vyf dae en dit dan gebruik, as jy wil)
Skêr
Lamineerpapier (dc fix)
Gom

Stap 1
Sny die karton sodat dit ongeveer die dikte van 'n liniaal se breedte is.

Stap 2
Versamel jou plante en stokkies wat jy wil gebruik en rangskik dit op die karton.

Stap 3
Plak dit vas met houtlym of die wit sort Bostik wat jy by die skool gebruik.

Stap 4
As jy lamineerpapier het dan kan jy dit daarmee oortrek.